’n Onlangse werknemersindeks het weer eens beklemtoon dat korrekte vak- en studiekeuses onmisbaar is om finansiële vryheid te verseker.
Volgens die Adcorp-werknemersindeks is daar tans ongeveer 344 000 Suid-Afrikaners met grade, diplomas en sertifikate wat werkloos is omdat hulle nie oor die vaardighede beskik waarna werkgewers soek nie.
Die verslag toon verder dat die getal afleggings in Januarie die hoogste was wat dit in tien jaar was, met 36 290 Suid-Afrikaners wat hul werk kwyt is. Boonop is daar verlede maand slegs poste geskep vir hoëvlak- gekwalifiseerde personeel en is daar tans ongeveer 470 000 vakante poste in die privaat sektor wat gevul kon word indien die vaardighede daar was.
“Nog nooit was dit meer noodsaaklik vir leerlinge om ’n ingeligte besluit te neem wanneer hulle hul vakkeuses op skool maak nie,” sê Riaan du Plooy, adjunk uitvoerende hoof: onderwys en opleiding van Solidariteit Helpende Hand. “Verkeerde vakkeuses kan beteken dat matrikulante nie na skool aanvaar word vir hoëvlakstudierigtings nie en dat hulle dan op die ou end sit met ’n tersiêre kwalifikasie wat nie in die huidige beroepsmark bruikbaar is nie.”
Solidariteit Helpende Hand se beroepsvoorligtingsprogram fokus op hierdie probleem deur aan Afrikaanse jongmense oor die land heen ’n bekostigbare beroepsleidingdiens ten opsigte van vakkeuses en beroepskeuses te bied. “Tersiêre opleiding is peperduur en daarom maak dit sin om in professionele loopbaanvoorligting deur psigometriese en aanlegtoetse te belê,” sê Du Plooy.
Verskeie pakkette is beskikbaar en Helpende Hand se voltydse, geregistreerde psigometris sal gratis na ’n dorp reis mits daar tien of meer jongmense is wat van die diens gebruik wil maak. Die beroepsleiding sluit ʼn informele gesprek met die ouers en leerling, die evaluering self en ʼn professionele verslag na afloop daarvan, in.
Skakel gerus vir Helpende Hand by 012 644 4390 of stuur ʼn e-pos na diens@helpendehand.co.za vir meer inligting. •