Suid-Kaapse meubelhoutsoorte

Danie praat inheems

blomme

In die Suid-Kaap, vanaf Grootbrakrivier tot Humansdorp, is daar ongeveer 65 000 ha inheemse woude – die grootste inheemse woude in SA.  Die gebied is ongeveer 250 km lank en die bosse kom gebroke voor op die kusplato en die laer hellings van die Tsitsikamma en Outeniekwaberge.  Tweederdes, nl 43 000 ha behoort aan die staat. Van die ongeveer 130 boomspesies in hierdie woude is Stinkhout, die twee Geelhoutspesies en Hardepeer die belangrikste meubelhoutsoorte.  Daar is egter ‘n hele paar ander soorte wat ook geskik is vir meubels, nl Rooi-els, Perdepram, Essenhout, Witpeer, Boekenhout , Kaapse  kiaat en  Ysterhout (in die veneer-vorm).  Ysterhout is eintlik te swaar vir meubels en as jy dit het, moet jy maar lewenslank in dieselfde huis bly want dit weeg 75 lb per kubieke voet droog! Die mees gesogte boomspesies onder meubelmakers is die volgende: Ocotea bullata (Stinkhout).  Dit is baie gewild vir prestige meubels.  Die hout het verskillende skakerings van bruin tot byna swart en is maklik bewerkbaar.  Vars gekapte bome het ‘n kenmerkende en selfs onaangename reuk. Podocarpus falcatus (Kalander).  Hout is geel met ‘n egalige tekstuur.  Dit is baie geskik vir meubels en paneelwerk.  Die banke in die moederkerk in Knysna en Wittedrif is van Kalanderhout. Podocarpus latifolius (Opregte geelhout).  Die hout is bleekgeel, met ‘n gelykmatige tekstuur en deur meubelmakers beskou as van ‘n effens beter gehalte as Kalander.  Kalander het egter meer figuur in die hout.  Dit is ook baie geskik vir meubels en paneelwerk. Olinia ventosa (Hardepeer).  Die kleur van die hout wissel van geel tot bruin met ‘n fyn en reëlmatige tekstuur.  Dit is voorheen hoofsaaklik in wamakery gebruik en as vloere en panele.  Sedert die middel 1980’s het meubelmakers dit begin gebruik as meubelhout en vandag is dit een van die mees gesogte meubelhoutsoorte in Knysna.  Die hout se pryse het opgeskiet op die jaarlikse houtveilings en behaal hoër pryse as geelhout en byna gelykstaande aan stinkhout se prys.  Ongelukkig verteenwoordig Hardepeer slegs 0,9% in die Suid-Kaapse woude en is dus nie geredelik beskikbaar nie. Foto:  Blomme Hardepeer.

Kontak Danie by: Selfoon 082 320 1833 of 044 531 6790 E-pos oupadaan@lantic.net Hy woon in Nature’s Valley in die “Oupa Daan” – Huis in St George’s laan 245.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *