Bos-tipes

Danie praat inheems

 

Inheemse bosse kan in ses tipes ingedeel word.  Ek gee telkens voorbeelde van plekke in ons omgewing waar dit voor kom.

Medium vogtige hoë woud: Op plekke met ‘n gematigde tot vogtige klimaat en meestal digte leemgronde.  Hier kom vertraagde dreinasie voor en gronde bly die hele jaar vogtig.  Ysterhout is volop en hul krone steek hoog bo die bos uit.  Baie algemeen is Opregte Geelhout wat ook tot die kroondak groei.  Kalander is skaarser maar groot bome word aangetref.  Ander dominante soorte is Witpeer, Hardepeer, Kershout en Boekenhout en ook Assegaai, Vlier en Stinkhout.  Voorbeeld: Langs die gewilde “Boardwalk” net anderkant die Grootrivierbrug by Nature’s Valley.

Vogtige hoë woud:  Op oostelike en suidelike hange op gelykdele van die hoër plato. Die leemgrond is matig tot diep en bedek met ‘n welige grondlaag plante.  In die kroonlaag is Ysterhout en Kalander (tot 50m hoog) en in die bolaag vind jy Witpeer, Vlier, Stinkhout, Opregte geelhout, Boekenhout en hier en daar Without en Wildeperske  Voorbeeld:  Van Harkerville af na die see toe.

Droë hoë woud:  Op die laer plato van westelike en noordelike hellings met ‘n matige warm en droë klimaat.  Die kroondak hier is laer en 10-18m hoog.  Bome in die kroonlaag is Kershout (volop), Witpeer, Kwar, Saffraan, Assegaai, Perdepram, Kalander, Opregte geelhout, Boekenhout ens.  Voorbeeld:  Oos van Diepwalle op pad na Wittedrift.

Nat hoë bos:  Op gelykdele van die oostelike en suidelike hange en in smal valleie met ‘n koel, klimaat.  Die kroondak is ongeveer 12 – 20m hoog.  In die bolaag is Stinkhout, Rooi-els, Opregte geelhout – ook Kammasie, Vlier, Boekenhout, Wit-els, Kershout en ‘n paar ander soorte.  Voorbeeld:  Noord van Diepwalle op hoër dele.

Baie droë struikbos:  Op suidwestelike hange van die voorheuwels en bestaan uit bome van 6-10m hoog en 3-6m struike op ‘n digte grondlaag.  Rooi-els is volop in die kroondak en ander ook Notsung, Stinkhout, Wit-els, Opregte geelhout, Boekenhout en Keur.  Minder opvallend is Without, Ysterhout en Kershout.  Voorbeeld:  Noord van Knysna op laer heuwels.

Baie nat struikbos:  Teen hoër suidelike en oostelike hellings en rotsagtige valleie en klowe.  Die klimaat is koud en mistig en die gronde is vlak.  Die struikbos hier is maar 3-5m hoog.  Soorte hier is onder andere Sterappel, Notsung, Stokroos, Tolbos, Bergsipres en Keur.  Hier kom ook heelwat varings voor –  Blechnum-soorte en ook Kloutervaring (Gleuchenia).  Voorbeeld:  Hoër dele van die Outenikwaberge se suidelike en oostelike hellings.

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *