BLACKWOOD

Danie praat inheems

Noem die woord “Blackwood” en omgewingsbewustes sit regop.

Australiese Swarthout (ek noem dit Blackwood om dit te onderskei van die inheemse swarthout – Maytenus spesie) is ingevoer om die druk op inheemse woude vir meubelhout te verlig.  Dit is baie gesog as meubelhout en lyk baie soos stinkhout.

Die Dept Bosbou het in die 60tiger jare vyf honderd hektaar Blackwood hoofsaaklik by Kruisfontein (naby Knysna) aangeplant. Nog 500 ha Blackwood is ook in die Tsitsikamma-bosstreek aangeplant.  Oop kolle in die inheemse woude is ook met Blackwood hervestig maar gelukkig is hierdie praktyk laat vaar.  Bosbou het in die 80tiger jare ‘n 50 jaar plan opgestel om die Blackwoods in die inheemse woud geheel en uit te roei.

Blackwood het ‘n vlak wortelstelsel en daarom is ligte dunnings jaarliks uitgevoer om windvalle in die plantasies te voorkom.  Dit is gedoen om die  ideale stamtal per hektaar en deursneegrootte van saagblokke vir meubelhout te lewer.  Wetenskaplike beplanning was kritiek omdat die kringloop van hierdie boomsoort 40 tot 50 jaar is.

Ongelukkig het Blackwood baie versprei en is byna onuitroeibaar – die saad is baie hard en kan tot 40 jaar en langer kiemkragtig bly.  Blackwood het vinnig in die inheemse woude versprei veral deur voëls wat sade vreet – hulle het mos nie toilette nie!

Die gevaar van ongewenste verspreiding van uitheemse boomspesies soos die Australiese akasias is ongelukkig nie destyds voorsien nie.  Blackwood is vandag van die groot indringer spesies saam met swart- en groenwattel.

‘n Hele aantal Blackwoods is selfs in ‘n natuurbewuste Nature’s Valley te sien.  Die goeie nuus is dat daar tans ‘n groot poging aangewend word om dit met “wortel en tak” uit te roei.

Kontak Danie by: Selfoon 082 320 1833 of 044 531 6790 E-pos oupadaan@lantic.net Hy woon in Nature’s Valley in die “Oupa Daan” – Huis in St George’s laan 245.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *