MAART-LELIES

Danie praat inheems

DSC00871

Amaryllis belladonna – March lily, Naked lady. In die laatsomer is hierdie besondere bolplant met sy opvallende pienk blomme oral in die Wes-Kaap in tuine en in die veld te sien.  In die Phyl Martin Park in Nature’s Valley is daar nou pragtige voorbeelde. Amaryllis verwys na ‘n pragtige vroulike Griekse skaapwagter en belladonna beteken “mooi vrou”.  Maar dit is nie net ‘n gewone mooi vrou nie – sy is kaal!  Die volksnaam “Naked lady” verwys na die kaal stam sonder blare maar met blomme bo-aan . . .  Die blare verskyn eers nà die blomme.  Die lang groenerige persrooi stam is ongeveer 50cm lank.  Daar kan tot 12 blomme op ‘n stam voorkom.  Die lig- tot donkerpienk blomme is gewoonlik 10cm lank.  In die somer verdroog die blare en die bol word dormant. Maartlelies kweek maklik van saad.  Die sagte sappige wit tot pienk saad moet geplant word as dit nog vars is.  Ongelukkig neem saailinge 3 – 6 jaar om te blom.  In tuine sal dit gewoonlik dan elke jaar daarna blom maar in fynbosveld na ‘n brand verskyn periodiek massas blomme.  ‘n Vinniger voortplantingsmetode is om die groot bolle te verdeel gedurende die dormante tyd.  Die droogtebestande bolle moet vlak geplant word. In hul natuurlike habitat groei Maartlelies meestal in ‘n rotsagtige omgewing.  Die beste plek om dit te plant sal dus in ‘n rotstuin wees.  Maartlelies word soms saam met Agapanthus geplant waar die immergroen blare van die Agapanthus mooi “rompies” sal vorm vir die naakte stamme van die Amaryllis. Die familie amaryllidaceae is deel van ongeveer 60 genera wat meestal in suidelike Afrika voorkom met kleiner verspreidings in die Andes in Suid-Amerika.  Ander bekende genera in Suid-Afrika is Clivia, Crinum (Bos- / Kaapse kus- /,  vlei-lelies),  Cyrtanthus (Vuur / George-lelie), Nerine / Nerina, en Scadoxus (Verf- of poeierkwas).  Lede van hierdie groot familie kom oral in die Suid-Kaap voor. Meeste van bostaande inligting is verkry uit die gesaghebbende webblad van plantzafrica.  Wenk: tik op Google die naam van enige plant waaroor jy inligting soek plus die woord “plantzafrica”, bv watsonia plantzafrica. Geniet die laatsomer!

Kontak Danie by: Selfoon 082 320 1833 of 044 531 6790 E-pos oupadaan@lantic.net Hy woon in Nature’s Valley in die “Oupa Daan”-huis in St George’s Laan 245.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *