WANNEER JOU BESKERMING SE BYT JOU KAN KOS!

 

Die stygende misdaadsyfer in Suid-Afrika is vir niemand “nuwe” nuus nie. Wat wel nuuswaardig is, is die toename in honde wat mense aanval. Verskeie faktore kan aanleiding tot dié stygende syfers gee. Van die redes wat voorgehou word vir die toenemende voorkoms van aanvalle deur honde is die verhoogde misdaadsyfer en die aankoop van groter en kwaaier honderasse as gevolg daarvan, asook die groeiende belangstelling in sekere gemeenskappe in onwettige hondegevegte.

Wanneer ‘n individu deur ‘n hond gebyt word kan dit tot groot emosionele-, fisiese- en eiendomskade lei. Wat staan u (die publiek) egter te doen indien u deur ‘n hond gebyt word? Wat is u regte? Is daar bepaalde stappe wat u kan volg indien u deur ‘n hond gebyt is? Hierdie artikel het ten doel om as ‘n informatiewe leesstuk te dien, om u in te lig rakende die verskillende regsaspekte wanneer u die onverwagte slagoffer van ‘n hondbyt is.

Die slagoffer van ‘n hondbyt kan aanspraak maak op die gemeenregtelike aksie bekend as die (actio de pauperie). Hierdie gemeenregtelike aksie is gebaseer op die eienaar se skuldlose aanspreeklikheid vir sy/haar hond se optrede. Vir die aksie om suksesvol te wees moet die slagoffer (hierna na verwys as die Eiser) egter verskeie dinge bewys. Die belangrikste sluit in:

1. Eienaarskap van die hond.

2.Dat die hond in stryd met sy natuur opgetree het. In hierdie verband moet die Eiser en die Eienaar (verweerder ) kennis neem daarvan dat ‘n mak huisdier, in dié geval die hond, teen sy natuur sou optree indien die huisdier iemand byt.
3.Dat die hond ‘n mak huisdier is.

4.Dat die hondbyt die Eiser skade berokken het.

Daar is egter ook ‘n aantal verwere wat geopper kan word teen die bogenoemde aksie, naamlik:

1.Indien die hond sy eienaar, en/of eiendom sou verdedig teen onwettige betreding/inbraak.

2.Waar uittarting aanleiding daartoe gee dat die hond reageer op die stimuli en daarvolgens optree teenoor die persoon wat die handeling uitvoer.

Daar rus geen onus op die beseerde Eiser om die vreemde optrede van die hond te verduidelik nie.

Wanneer hierdie tipe eise egter ingestel word is dit raadsaam om nie net met die hoofaksie (actio de pauperie) alleen te volstaan nie, maar om ook ‘n alternatiewe eis, gebaseer op ‘n tweede gemeenregtelike aksie, in te stel. Hierdie gemeenregtelike aksie staan bekend as die (actio legis aquiliae). Laasgenoemde aksie word ingestel waar die Eiser nie kan bewys dat ‘n bepaalde persoon die eienaar van die hond is nie, of indien daar nie bewyse gelewer kan word dat die hond teen sy natuur opgetree het nie. (Actio legis aquiliae stel) die Eiser daartoe in staat om ‘n eis van nalatigheid teen die persoon wat ten tye van die voorval in beheer van die hond was, in te stel. Die eis sal egter slegs suksesvol wees indien nalatigheid bewys kan word.

Uit die bogemelde is dit dus duidelik dat Eiser twee duidelike aksies het indien hy/sy deur ‘n hond gebyt word, naamlik die (actio de pauperie) en (actio legis aquiliae). Daar is egter (soos genoem in die artikel) verskeie vereistes waaraan hierdie aksie moet voldoen. Om skade te voorkom is dit egter ook belangrik dat ‘n honde-eienaar voorsiening moet maak vir publieke aanspreeklikheidsversekering om sy/haar boedel teen skadevergoedingsaksies te beskerm. Dit sal raadsaam wees om in geval van ‘n hondbytvoorval, ‘n prokureur te raadpleeg wat spesialiseer in liggaamlike beseringseise om die eiser van advies te voorsien

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *